NUUSBRIEF OOR DIE GEBEURE IN 2004/5
30/01/05
Dit was ʼn buitengewoon wonderlike jaar vir ons familie gewees. Ons het as familie in Junie ʼn 4 x 4 vakansie gehad na die Kaoko-veld (noord-wes Namibië). Ons was 16 dae weg gewees en met so ʼn natuur vakansie kom ʼn mens bymekaar uit. Ons het woestyn olifante in die Hoanieb rivier gesien, die barre dorre woestyn met manjefieke gemsbokke en volstruise beleef, in ‘n standhoudende rivier in die woestyn gestap, ʼn sandstorm en van Zyls-pas oorleef, gekuier om die kampvuur en plan gemaak met ‘n stukkende alternator. Ons het altesaam 6000 km afgelê.
Wilhelm het 17 geword, sy leerling lisensie gekry en was deel van die uitnodiging span van die Hoërskool Ermelo wat in Mei 04 na Japan getoer het om aan ‘n wêreld o/17 rugby toernooi te gaan deelneem het. Dit was ‘n groot ervaring. Daar het 16 spanne deelgeneem en hulle het derde gekom. Van die ander spanne was van Australië, Frankryk, Nieu Zeeland, Skotland . Wilhelm het sy spiesgooi item met 57 m op die interhoër gewen, deelgeneem aan die operette Sound of Music en is ook op die leerlingraad verkies. Hy is nou in Matriek en wil volgende jaar ‘n grootword jaar neem en ‘n bietjie in Amerika gaan boerdery werk doen.
Heléne het 16 geword en is nou in st 9. 2004 Was haar jaar, sy het ‘n gelukkie gehad, en was saam met vriende Thailand toe (gelukkig voor die tsunamies). Sy presteer wonderlik op sport gebied. Sy verwerf Mpumalanga kleure vir spiesgooi en ook vir “ showjumping” met haar perd Reddy. Sy het nou ‘n nuwe jong perd, Jenny en dit gaan glad nie sleg nie. Sy het erekleure vir akademie, moderne dans, operette en landloop gekry. Dit was ook ‘n liefdes jaar en ‘n rooikop het haar hart gesteel. In 2005 wil sy graag aansoek doen om as uitruil student na Duitsland te gaan, ons hou duimvas.
Jana is nou 14 en is gelukkig klaar met st 6. Maar dit was ʼnpret jaar en sy het die hoërskool baie geniet. Sy het ‘n nuwe perd begin leer, haar naam is Ghalewa, dit beteken “Kop” in Russies, want sy kan so malkop speel met die kop. Hierdie jaar gaan sy en Ghalewa ‘n ding doen. Tydens die eerste uitdun rondtes het sy 2 tweede plekke verower en ons hou duimvas vir die Mpumalanga span. Jana het erekleure vir Jeugskou gekry en het die skou met haar boerbok terdeë geniet.
Nico se organiese boerdery gaan van krag tot krag, die aarbeie wag ʼn groot sukses en ons brei uit na 3ha. Ons het suksesvol 80% van die sweetcorn na Marks en Spencer in Engeland uitgevoer. Hy vlieg nog lekker in die wintermaande en doen “Fire Fighting” nou al vir die 12de jaar.
|