Kaalgestroop Opstel2017-10-30T08:17:32+00:00

Kaalgestroop

Februarie 2007

Krulletjies en draaitjies in die mooiste kleure van rooi, geel en pers, so wys die weerman op die TV hoe die sikloon nader aan die kontinent beweeg. Ons konsentreer so op die weer patroontjies dat ons skaars agterkom dat daardie selfde kleurryke sirkelpatrone ons eie land soetjies droog suig. Droër en warmer word dit hier, terwyl die nuus van oorstromings in Mozambique ons bereik.

Mens en dier smag na lafenis in die versengende hitte van die dae wat volg. Geleidelik sien ons voor ons oë statige mielieplante  hul greep op die lewe verloor .

Daardie warm Vrydag 16 Februarie 2007 sien ons en baie ander mense ‘n majestieuse kumilus wolk wat besig was om groter en groter te word. ‘n Wolk van hoop, want vir dae en maande was daar niks.  Teen donker daardie aand het die wolk in ‘n monster verander, met ligte wat flikker soos ‘n kersboom, binne in sy groot lyf, stil sonder ‘n geluid. Dit was asof die wolk die enigste bietjie voggies wat hy kon kry, van vêr af versamel het om dit êrens te gaan uitstort.

Eers later sou die wolk praat.

Laat daardie aand hoor ons hom, donderende geluide – van hoop, maar wat die wolk wou sê wou niemand hoor. Een knal op die dak, twee, drie, vier, Gordyne waai, glas breek, dakke lek en nog is dit ‘einde niet’. So groot soos hoender eiers val en val dit, tot dit lyk soos sneeu om ons heen. Ons bid, ons huil, ons lag, ons hoop, maar dit hou nie op.

Erens in die nag het my ma opgehou huil, en ‘n ondraaglike doodse stilte het oor die huis gedaal. Die volgende oggend het ons wakker geword sonder die gewone voël geluide, want hulle was nie meer daar nie.

Die werf was chaos en op die landerye staan net die oorblyfsels van statige plante wat geveg het teen die krulletjies en mooi patroontjies wat al die vog gesteel en net die hitte en droogte gebring het, en ook die wolk van hoop.

Ons lewe nog
Maar is kaalgestroop
Emosioneel en finansieël.

Jana Steinberg Gr11