Nuusbrief oor die Gebeure in 2005/62017-10-30T08:17:33+00:00

Nuusbrief oor die Gebeure in 2005/6

12/11/06

Ons oudse het skool verlaat en ek kan nie glo hoe ‘n mens net ryp word vir al hierdie dinge wat met jou moet gebeur. As familie het ons nou twee seisoene net heerlike bosveld vakansies gehad, op ons eie plaas Bloubank. Ons het hierdie jaar twee perde saam geneem en dit was heerlik om op die wildsplaas met hulle te beweeg. Dit was veral vir die meisiekinders lekker want hulle raak later uitgekuier met die manne se onophoudelike gejag. Daar was net ‘n groot leemte. Wilhelm was nie daar nie !!! Verder het ek en Nico gedurende April ‘n wonderlike week saam met vriende by die KKNK gehad.

Wilhelm is nou 19. Voor ek vergeet – hy het verlede jaar Akademie A vir Mpumalanga rugby gekry (dis nou Craven week B soos in die ou dae), en ook ‘n paar wedstryde vir die Pumas 0/19 gespeel. Gelukkig is Matriek iets van die verlede. Die energie en lus vir die lewe van so ‘n jong man het ons al vergeet en dis heerlik om dit in hom te sien. Op die oomblik ry hy ‘n sware trok in Kansas, VSA en werk soos ‘n slaaf , maar hy geniet dit baie. Hulle sny kuilvoer en ry dit op groot hope. Volgende jaar gaan hy Grootfontein Landbou Kollege toe in die Karoo (Middelburg Kaap).

Heléne was onderhoofmeisie van Ermelo Hoërskool en dit was ‘n rowwe tyd. Vroeg die jaar het sy van ‘n perd geval, haar sleutelbeen gebreek en dit was die einde van die hokkie seisoen asook die perdry seisoen. Sy het haar egter op die akademie toegespits. Die rooikop liefde hou ook nog. Hy is op Bloemfontein en speel vir die o/19 Cheethas rugby. Dis nou amper matriekafskeid en die rok is n wenner. Die universiteit lê voor en dit gaan argitektuur of ingenieurswese wees op Tuks. Sy en vriende gaan vir die hele Desember in Engeland by ‘n kersfeesboom plaas werk !! Dis darem lekker om jonk te wees.

Vir Jana was was dit ‘n groot jaar! Sy word ‘n junior springbok in “showjumping” met haar perd Ghalewa. Sy word ook vir Mpumalanga 0/16 hokkie gekies  en sy word “sweet 16” in Desember.

Die boerdery het baie swaar tye beleef. Eers kry ons laat-ryp op die aarbeie en verloor die hele oes. Gedurende die somer van 2006 hou dit toe nooit op met reën nie en hierdie “wetland” plaas van ons kry toe nooit son sodat alles later versuip het. Dit was letterlik ʼn geval van die geelbek eende wat tussen die slaai plantjies en sweetcorn swem. Nodeloos om te sê, teen einde April het ons die stryd verloor en is ons jare teruggesit. Maar nog was dit ‘het einde niet’. November 2006 dra die aarbeie waarop baie hoop gesit is NIKS! Tot nou toe kon ons dit nie verklaar nie. Die raspberries het met die vorige versuip tyd wortelvrot gekry en byna die helfte vrek uit. Al wat oorbly is HOOP.

Ons pak toe ‘n reuse projek aan om die verliese van die plaas op te maak en berei potjiekos vir 7500 mense! Dit was ‘n groot sukses en ek en Nico was ‘n wonderlike span. Ek voltooi ook die Waenhuis Cottage wat die gaste nou baie geniet – dis nog net die stoep en tuin wat oorbly om te voltooi. Ons dank die Here dat hy oor ons die wag hou en vertrou hom vir groot seen in 2007.