Nuusbrief oor die Gebeure in 2010/112017-10-30T08:17:33+00:00

Nuusbrief oor die Gebeure in 2010/11

5/11/11

Die winter van 2010 sit ek dag vir dag in die lekker warm sonnetjie in my woonkamer, maar ek dink en beplan dat die rook so staan Die nuwe Trou Venue moet dit gebeur of moet dit nie gebeur ? As ek begin kan ek nie omdraai. Wil ek dit doen ? Moet ek dit doen ? Wat gaan ek met my lewe doen die volgende 20 goeie seisoene wat voorlê ? Nico het my aangepor en gesê: “ Kyk na die groot vroue, die Margaret Thatcher’s en Hellen Zilli’s, hulle het eers na 50 hul ding gedoen, die kinders is uit die huis en tyd is weer jou eie.” ‘Go for it’. Nouja. Sie daar! Ek het begin planne optrek.

In November word my mamma(75) baie siek, sy ondergaan ‘n groot nek operasie, dis ‘n gespook tussen haar, my pa en alles wat daarmee saam gaan. Ons het ‘n heerlike kersfees saam met my broer Braam en sy familie op Ponta Malongane in Mozambiek. Net daana besef ek ek sal iets moet doen vir my ouers, hulle wil nie na ‘n tehuis gaan. Ons plaas mense sukkel maar met daai tiepe besluite. Ek bou vir hulle ‘n huisie hier langs my en binne 4 maande trek hulle in, ‘n rustigheid het oor hulle gekom. Dis maar ‘n pad wat ek sal moet stap en glo ek sal krag kry vir wat ek ook al moet doen. En toe kom die groot ‘K’ kanker in my pa se oog!

Wilhelm is nou 24. Chokkie die bruin skaaphond vrek toe hier by my toe Wip in Amerika was, ek huil vir 2 weke, seker oor die hond, maar ook oor die kind. Ek koop ‘n nuwe hondjie Toffie, Wip en Toffie kom nie klaar en ek erf toe die mooi blouoog hondjie. Wip is baie gelukkig op Mooiplaas saam met sy “unckle”. Bou bees en skaap krale en werk baie hard. Ek en Elria het die ou familie plaashuis gaan mooi maak, met geêrfde blou leerbanke, ‘n bosveldhout chandeleer en inguni beesvelle lyk dit soos ‘n plek uit die TUIS. Om die kersie op die koek te sit bring hy vir Anja daar aan, die oulikste veeartsie in wording.

Heléne (22) Is nou ‘n volwaardige Siviele Ingenieur sy werk by ARQ en hulle word sommer vinnig in die diep kant ingegooi, dis ‘n kwessie van swem sussie swem. Sy en vyf maats kry vir hulle ‘n lekker groot huis met braai en swembad en sy kon die versoeking nie weerstaan om vir Lika ‘n GSP (pointer hond) haar eie te maak. Die lekkerte is van korte duur, die inbrake by die huis laat hulle padvat en nou is hulle in woonstelle en ekke erf weer ‘n hond, ek wil net nie die baba’s erf, het ek hulle laat weet.

Marius kom toe noudie dag hier aan met ‘n groen boxie en kom vra of hy dit maar aan ons dogter se hand kan sit, die mooiste “vintage” ringetjie. Ons is baie opgewonde oor hul planne. Nou moet ek bou dat dit klap want die eerste huwelik op Florence is hulle s’n, 4 Feb 2012. WaaW!

Jana is tweede jaar, die akademie is maar rof want die koshuis lewe is so baie lekker. Sy erf die groen Uno by Wilhelm, 370 000 km op die klok, maar sy is mal oor haar wiele. Kêrels is te ingewikkeld op die stadium, Bertus het darm ‘n rukkie gehou. Die bondel kuiery is die lekkerste. Op die oomblik het die fietsry maatjie Danie die meeste punte by die familie en haar gekry.

Die boerdery is gestabiliseer, Nico spits hom toe op sy skape en beeste, sorg dat hy baie goeie kos maak vir die ooie en lammers. Sy lam persentasie in 2010 was 100% maar ai nou moet ‘n mens hulle groot kry. Die Venue gaan baie van hom en my eis en ons besluit om die skape met beeste te ruil, want die werkslas op beeste is baie minder.

Met die gastehuis gaan dit nog steeds baie goed. Ek voltooi die Nightingale Cottage einde 2009, nou is al die ”hoenderhokke”op die plaas gaste kamers. Die eerste dam op die werf is ook klaar en gee ‘n wonderlike nuwe gevoel aan die werf. Toe Nico die 2de dam einde 2010 voltooi, het ons hele werf verander en dit het gemaak dat die ou sandsteen stal en klipkraal lewe gekry het. Nou sien ek kans vir my groot droom.. Die Venue.

Die Vader het aan ons op ongelooflike maniere voorsien. ‘n Familie lid stel ons bekend aan ‘n bouspan  Mosambiekers wat in Jhb bly. Wat ‘n plesier om met hulle te bou. Hulle bring toe vir Morgan die klip bouer hier aan, en wat ‘n seen. Ek kry glad nie ‘n lening, maar op die dag dat ek nie meer weet hoe ek die projek gaan aanpak, kry ek uit ‘n privaat oord ‘n klein lening. Ek moet met die helfte van die geldjies wat ek beplan het, hierdie ding “opstart”. Met Sy guns sal ek!